Share This Post

10 Maniere om lees in jou skool te bevorder

10 Maniere om lees in jou skool te bevorder

Een van die groot probleme wat ons tans in Suid-Afrika ervaar, is die feit dat ons leerders sukkel om te lees. Lees is nie net ‘n eienskap wat leerders benodig om ‘n sukses van hul toekomstige loopbaan te maak nie, dit is ook ‘n vaardigheid wat hulle nodig het om sosiaal, intellektueel en emosioneel te ontwikkel.

Volgens Times Live kan 80% van Graad 4-leerders nie op die geskikte vlak lees nie. Volgens dieselfde bron is Suid-Afrika laaste geplaas in die Progress in International Reading Literacy Studie (PIRLS) wat amper 320 000 kinders wêreldwyd ingesluit het. Gaan lees gerus meer oor die bevindings van Times Live hier: Read it and weep: SA kids struggle with literacy.

Lees is belangrik omdat dit leerders se kreatiwiteit en verbeelding ontwikkel. Dit bou ook ‘n sin van onafhanklikheid. Indien jy ‘n onderwerp het waarin jy belangstel, kan jy jouself baie dinge wysmaak deur jou eie navorsing te doen. Die een baie belangrike voordeel van lees is om woordeskat en spelling te bevorder en dit dra natuurlik by tot beter kommunikasievaardighede. Hierdie is slegs ‘n paar redes hoekom leerders moet kan lees. Die vraag is – hoe bevorder ‘n mens lees in jou skool?

    1. Begin ‘n boek-klub

      Hierdie kan ‘n klub wees wat weekliks bymekaar kom en gesels oor spesifieke boeke. Leerders kan boeke voorstel, hulle kan saamgesels oor wat hulle ervaring was van ‘n boek en selfs ook kritiek lewer. Leerders wil nie graag boeke lees wat onderwysers voorstel nie, maar indien vriende in hul portuurgroep dit voorstel, sal hulle meer gretig wees om dit te lees. Hierdie kan dien as ‘n buitemuurse (kultuur) aktiwiteit.

    2. Hardop-lees

      Laat leerders in die klas hardop lees. Hierdie is nie net ‘n aktiwiteit vir die taalklaskamers nie. Leerders moet tog kan lees in alle vakke en as hulle hardoplees oefen hulle nie net hul leesvaardighede nie, maar jy kan ook ‘n handjie bysit met die uitspraak van jou vak-jargon.

    3. Begin ‘n “biblioteek” in jou klaskamer

      Kry ‘n klomp tweedehandse boeke in die hande, of as jou leerders dit kan bekostig, vra elkeen om een boek te koop en klas toe te bring. Laat leerders elke week ‘n boek kies om te gaan lees by die huis. Elke week ontvang hulle dan ‘n nuwe boek. Skep ook take rondom hierdie boeke – hulle kan resensies skryf, of ‘n strokiesprent maak oor die boek, of ‘n advertensie vir die film maak. Julle kan ook die boeke aan die einde van die jaar skenk aan ‘n liefdadigheid van julle keuse, of die boeke kan in die klaskamer bly vir die volgende jaar se gebruik.

    4. Skeduleer spesifieke lees-tye in jou klaskamer

      Hou die eerste of laaste tien minute van jou les oop vir stillees. Laat die leerders interessante boeke, tydskrifte of selfs koerante lees. Hulle kan ook van die internet gebruik maak om interessante artikels te vind wat hulle kan lees. Maak seker dat jy betrokke bly by hierdie aktiwiteit. Loop stadig deur en kyk wat die leerders lees, sodat jy opvolg vrae kan vra en kan sien waarin jou leerders belangstel. Jy kan dit ook meer pret maak deur soms buite te gaan sit en lees met jou kinders.

    5. Lees kortverhale

      ‘n 150-bladsy boek is dalk ‘n groot berg wat kinders nie graag wil aandurf nie. Begin met kortverhale. Gebruik kortverhale om leerders lief te maak vir lees. Wys vir hulle die verskillende genres, verskillende temas, hoe outeurs verskil, ensovoorts. Kortverhale is ‘n manier om leerders te wys watter verskeidenheid boeke en verhale daarbuite is en dit sal hulle aanmoedig om meer te wil lees. Jy kan hulle ook, deur die gebruik van kortverhale, meer betrokke maak by die kurrikulum. Kry ‘n paar kortverhaalbundels en laat die leerders in die eerste twee kwartale op hulle eie ‘n paar kortverhale lees. Gee dan vir hulle die geleentheid om kortverhale voor te stel wat hulle as ‘n klas kan lees. Leerders sal baie meer betrokke wees as hulle die voorstel gemaak het en hulle sal ook reeds die storie ken, wat die bespreking daarvan baie sal help.

    6. Vergelyk die boek en die film

      Die meeste kinders wil eerder ‘n film kyk as wat hulle ‘n boek wil lees. Gebruik dit tot jou voordeel! Elke kind kan hulle eie film met bypassende boek kies, of die klas kan een film kies en dit saam doen. Laat die leerders die boek op hulle eie lees en indien jy tyd het, kyk die film saam met hulle in die klas. Laat hulle spesifiek oplet na die verskille. Jy kan selfs ‘n paar take hierom opstel. ‘n Resensie, ‘n brief aan die outeur, ‘n meningsopname om te sien wie eerder die boek as die film verkies – en brei dan sommer daarop uit deur vir hulle ‘n debat te laat doen daaroor!

    7. Stel vir leerders ‘n lees-uitdaging

      Daar is ‘n paar voorbeelde van uitdagings wat jy kan stel. Vir die leerders wat dit geniet om te lees is die “16 classics before you’re 16” ‘n wonderlike idee. Daar is ‘n paar skole wat dit doen en hulle het ook ‘n spesifieke rak in die skoolbiblioteek wat spesifiek daarvoor bedoel is. Die skool gee dan vir die leerders wat hierdie uitdaging voltooi ‘n prys.
      Jy kan ook aansluit by Reading Rewards. Jy skep ‘n profiel waarvan die leerders dan deel word en jy stel verskillende teikens met “rewards” daarby. Gebruik jou eie kreatiwiteit om uitdagings op te stel, jy weet tog die beste wat jou kinders die meeste motiveer en wat hulle die meeste gaan geniet.

    8. Leeshoekie vir leerders wat vinnig werk

      Baie onderwysers wonder hoe om die leerders besig te hou wat voor die ander leerders klaar is met hulle werk. Kry ‘n paar boeke in jou klas en laat hulle dan toe om te lees wanneer hulle werk afgehandel is. As jy spasie het, kan jy ‘n spesiale leeshoekie inrig met gemaklike stoele of kussings waar hulle gemaklik kan lees. Jy sal verbaas wees hoe baie hulle dit sal geniet. Dit is natuurlik net belangrik om te monitor dat die leerders wel hulle werk volledig voltooi het voordat hulle in die leeshoekie gaan sit.

    9. Vier Wêreldboekedag

      Vra jou leerders om een of twee boeke te lees en beloon hulle dan deur hulle toe te laat om soos hulle gunsteling karakter aan te trek op Wêreldboekdag op 23 April. Moedig die leerders aan om unieke karakters te gaan soek en dit sal dan hulle ook dryf om unieke boeke te gaan soek. Gee ook pryse op die dag vir die snaaksste karakter of die uniekste karakter.

    10. ‘n Leesmuur

      Gebruik ‘n muur in jou klaskamer (of selfs elders in die skool) waar leerders die name van die boeke kan neerpen wat hulle gelees het. Los verskillende kleure notapapier en drukspykers sodat hulle dan vir die boek sterre kan toeken van 1 – 5. Laat hulle hulle naam op die papier skryf, die boek se titel en ‘n kort sinnetjie as hulle wil. Leerders sal dit geniet om bietjie te spog oor wat hulle bereik het, maar ook dit as inspirasie gebruik om meer te lees en laastens ook idees van boeke te kry wat hulle sal geniet.

Hierdie is ‘n paar maniere om lees in jou skool te bevorder. Moenie net opgee as een of twee idees nie werk nie, leerders moet eers weer geleer word om van lees te hou. Stel ‘n goeie voorbeeld deur self deel te word van hierdie aktiwiteite. Lees saam met die boekklub, sit die boeke wat jy lees ook op die leesmuur, vra die leerders wat hulle dink jy volgende moet lees!

Lees verder:

Wow! Kyk hoe dollie hierdie onnie sy klaskamer op!

Digitale Etiket en Internetveiligheid: Idees om kinders daarmee te help

10 idees vir jou klaskamer

Maak ekstra geld: Verkoop jou hulpmiddels aanlyn!

Wenke vir jou volgende onderhoud

Stereotipes in die onderwys: Wat sê die onnies?

Video’s vir derdetaalleerders

200 + Wiskundevideo’s vir graad 4 – 7

10 koöperatiewe leerstrategieë (en apps wat handig is daarvoor)

Adverteer onderwysposte / vind jou droompos!

Quizpedia: Laat leerders hul eie vasvrae ontwerp!

6 Memes wat net onnies sal verstaan

Maklike DIY vir ingenieurtjies in jou klas – STE(A)M

Quizlet: Maak digitale flitskaarte!

Idees vir poësie-maand

5 Wenke vir beter klaskamerbestuur

Idees: Maak jou eie leeshulpmiddel!

Idees: Maak stil snoesies!

Inspirasie: Maak jy ‘n verskil?

Inspirasie: Hoe om ‘n gebroke skool heel te maak

Digitale Media in die Afrikaansklas

Afrikaanse hulpmiddels

Share This Post

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

You may use these HTML tags and attributes: <a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <s> <strike> <strong>

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.